Week 16: Slaaie vir die somer

Slaai en somer noem ’n mens maklik in dieselfde asem en met die verskeidenheid vars bestanddele wat nou beskikbaar is, is variasies op die gewone tema geen probleem nie. Slaai-maak neem ook nie baie tyd in beslag nie, vra selde enige kookwerk en as mens die slaai mooi beplan, word alles opgeëet en niks vermors nie. Min slaaie met slaaiblare en vars bestanddele is die volgende dag regtig nog aptytlik en eindig maklik in die drom.

’n Lekker slaai is gelukkig lankal nie meer net blaarslaai, komkommer, tamatie en wortels in ’n bak nie. Dit kan ’n maaltyd op sy eie wees of die fokus-gereg by ’n eenvoudige, maar heerlike ete. Ons braai graag hoender of varkvleis in die ketelbraai met ’n eenvoudige stysel, bv klein aartappeltjies in die skil en dan ’n interessante slaai om die maaltyd lig te hou.

  • Selfs net ’n klein verandering aan jou gunsteling kombinasie van slaaibestandele kan ’n heeltemal nuwe slaai word. Somersvrugte, in plaas van bv tamaties, is ’n lekker verandering.
  • Somervrugte pas uitstekend by groen boontjies, komkommer en ’n lekker kaas op ’n mengsel van vars en interessante slaaiblare en kruie.
  • Onthou dat vrugte ’n kenmerkende, maar subtiele smaak het, so moet dit nie met ander of te veel bestanddele oorheers nie.
  • Nog ’n manier om maklik ’n verandering te maak, is om vars kruie saam met die slaaiblare te gebruik. Kruisement, dille, basiliekruid en tiemie werk uitstekend.
  • Gebruik liewer minder as te veel verskillende bestanddele. Dit is lekker om elke bestanddeel in die slaai te kan proe.
  • Slaaisouse kan mens maklik aanpas. Voeg bv ’n ander gedroogde of vars krui by of iets soos papawersaad gee ’n interessante tekstuur. (Sien die slaaisous hier onder as ’n opsie.)
  • Varieer fetakaas met ander kase. Mozzarella in ’n tamatieslaai is altyd ’n wenner. Bloukaas of camembert pas goed by vrugte en bokmelkkaas gee ’n heel ander smaak aan selfs die eenvoudigste slaai.
  • Sny bestanddele op ‘n ander manier, maar eenvormig en netjies om die slaai aptytlik te hou. Murgpampoentjie of wortels smaak sommer lekkerder in ’n slaai as dit in die breedte, met ’n aartappelskiller, in klein ‘muntjies’ gesny word – kinders is mal daaroor. Komkommer, met ‘n aartappelskiller in die lengte, in linte gesny laat enige slaai ektra elegant lyk.
  • Sit ’n slaai volgende keer op ’n plat slaaibord, eerder as ’n ronde bak voor. Maak ’n bed van slaaiblare en kruie en pak die ander bestanddele tussen-in en bo-op.
  • Probeer ’n slag om ’n slaai só uit te pak: sit eenderse bestanddele in klein groepies op individuele bordjies. Dan kan elkeen sy bestanddele saam meng soos dit verkies word. Sit bv die slaaiblare alles saam, dan repies groente of vrugte in aparte groepies, ’n aparte klein bakkie met die slaaisous en nog een met kaas of ’n slaai-sprinkel.
  • Geroosterde sonneblomsade of ander sade, grof gebreekte neute of iets soos dukkah (Noord Afrika mengsel van geroosterde sade en neute met kaneel en komyn, by supermarkte beskikbaar) is heerlik oor ’n slaai.
  • Wenk: Maak botterpapier goed nat onder ‘n kraan, druk die ergste water uit en maak die klam papier oop oor die bereide slaai. So bly dit heerlik vars vir ’n uur of wat, sonder dat dit in ’n yskas hoef te wees. As dit nog lank is voor die slaai voorgesit kan word, kan die klam papier met kleefplastiek of ’n dik afdroogdoek bedek word.

’n Geurige, gesonde, groen resep

(Uit Kos is op die tafel!)

Groen slaai met druiwe

Lewer 4 – 6 posies

Slaaisous

50 ml olyfolie
30 ml appel-, framboos-, of enige vrugte-gegeurde asyn of selfs verjuice
20 ml heuning
10 ml korrelmosterd
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
5 groot vars kruisementblare, in dun repies gesny

Slaai

150 g aspersies, deeglik gewas
150 g gemengde slaaiblare, dwergspinasie of kruie bv. roket en bronkors
2 handevol vars kruisementblare
500 g rooi of groen druiwe, gehalveer en ontpit
8-10 klein vars komkommertjies, in skywe gesny
4 sprietuie, in dun skyfies gesny
1-2 selderystingels, in skfies gesny
2 skywe fetakaas, gekrummel
1 avokado, in skyfies gesny

  1. Slaaisous: Klits al die bestanddele, behalwe die kruisement, saam en geur na smaak. Roer kruisement versigtig in en laat vir ’n paar minute staan.
  2. Slaai: Plaas aspersies intussen in ’n vlak mengbak en bedek heeltemal met kookwater. Laat 5-7 minute staan en dreineer dadelik. Spoel af in koue water sodat aspersies nie verder gaar word nie en dreineer deeglik.
  3. Pak slaai- en kruieblare met die res van die bestanddele op individuele borde of ’n groot slaaibord. Sit met die slaaisous voor.

Wenke:

1 Vervang aspersies met dun groen boontjies.
2. Voeg repies gaar hoender by die slaai vir ‘n ligte ete.
3. Vervang druiwe met geelperskes, nektariens of mango’s.