Week 64:Kleurvolle kos vir die lente

Kleurvolle kos lyk nie net mooi nie, maar smaak ook sommer lekkerder. Die lente is ’n seisoen vol bestanddele wat wonderlike kleur aan ’n bord kos van verleen. Van groente en vrugte tot kruie en selfs die blomme van sommige plante en kruie

Blomme in jou kos is nie ’n vreemde verskynsel nie, tans baie modieus en ’n prettige manier om ’n gewone slaai sommer ’n nuwe voorkoms te gee. ’n Mens moet wel weet watter blomme eetbaar en veilig is om te gebruik, maar daar is ’n lekker verskeidenheid eetbares beskikbaar om van te kies. Mens gebruik dit wel as ’n element in bv ’n slaai en van sekere soorte moet ’n mens nie te veel eet nie, maar as jy dit vir kleur en geur gebruik, is dit ideaal. As jy geneig is tot asma of hooikoors, moet jy lief ook wegbly van blomme omdat die stuifmeel jou kan affekteer.

Ek wil graag fokus op die blomme van plante, kruie, groente en vrugte in jou tuin wat eetbaar is. Met sommiges kan jy kook, soos malvas of laventel, maar daar is heelwat ander soorte wat ideaal is om in slaaie of as garnering te gebruik. Op die manier kan jy jou kos interessant maak, sonder dat dit ekstra geld kos of jy ten duurste daarvoor moet betaal.

’n Paar maklike idees met eetbare blomme is om dit in ysblokkies te gebruik vir ’n beker water of glase sap of ystee. Dit is heerlik in ‘n eenvoudige slaai, veral ’n groen slaai en ook saam met vrugte en avokado. ’n Koek, nagereg of kolwyntjie wat met ’n vars blom versier of gegarneer is, lyk regtig spesiaal en dit smaak ook lekker. Sommige blommetjies het ’n redelike sterk smaak, so moet dit nie oordoen nie, maar geniet die kleure, geure en pragtige voorkoms. Maak seker dat die blomme nie onlangs met gif gespuit is nie en spoel dit versigtig in water af voor jy dit gebruik. Druk liggies droog met kombuispapier, indien nodig.

Soos iemand nou die dag sê: sy wil amper nie weer iets in haar tuin plant wat sy nie ook kan eet nie. Dit kan nogal ’n goeie en groen uitgangspunt wees – juis in die lente.

Hier is ’n paar plante se blomme wat jy gerus volgende keer in ’n slaai of as garnering kan gebruik.
Blomplante: Malva, laventel, rose, kappertjies, somerviooltjies (viola in Engels), gesiggies (pansies) (NB: hier verwys dit nie na African violets of wilde viooltjies nie)
Kanola-plante se blommetjies is ook eetbaar.
Kruie: roosmaryn, grasuie, roket, koljander, basiliekruid, komkommerkruid (borage), vinkel en dille, origanum, marjolein, kruisement, tiemie, salie
Vrugte en groente: broccoli en blomkool is eintlik ook blomme. Bloeisels van ’n appel of lemoenboom word ook dikwels as garnering gebruik.

Onthou, ’n blom wat lekker ruik is nie noodwendig eetbaar nie, so maak baie seker voor jy sommer iets in jou kos gebruik.

Geurige, gesonde groen resep

Groen slaai met ertjies en blomme

Lewer 4 – 6 porsies

Slaai

150 g aspersies of dun groenboontjies
125 ml (½ k) vars of bevrore ertjies
100g jong slaaiblare van jou keuse
100 g bokmelkkaas of fetakaas van jou keuse
12 kruisementblare
’n paar eetbare kruieblommetjies, bv. salie, roosmaryn of tiemieblomme

Slaaisous

75 ml (5 e) olyfolie
30 ml (2 e) vrugte-asyn, bv druiwe-, appel- of framboos
5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
10 ml (2 t) heuning
7,5 ml (½ e) papawersaad
5 ml (1 t) Dijon-mosterd
sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

  1. Slaai: Plaas apsersies of boontjies (en bevrore ertjies) in ‘n vlak bak en bedek met kookwater. Laat vir 5-7 minute staan. Dreineer en spoel af in koue water.
  2. Slaaisous: Meng intussen die slaaisous. Plaas al die bestanddele saam in ’n glasflessie en skud saam tot goed gemeng. Geur na smaak met sout en peper.
  3. Plaas die res van die slaaibestanddele met die aspersies of boontjies en ertjies op ‘n slaaibord en sit voor met die slaaisous. Garneer met die blommetjies.

Wenke:

  1. ’n Paar roosblare of gesiggies kan in plaas van die kruieblommetjies gebruik word.
  2. Ander bestanddele soos avokado, appel of komkommer sal ook lekker wees in die slaai. Of gebruik vrugte soos aarbeie, bessies, druiwe of perskes wanneer dit in seisoen is.

Vrae om ‘groen leef in die kombuis’ prakties te maak:
1. Wat kan komposhoop of wurmplaas/bokashi-emmer toe gaan?
- enige kosafval is geskik vir die bokashi-emmer
- gebruik al die groente- en slaai-afval vir die wurmplaas of komposhoop, maar nie die suurlemoenskille nie
2. Hoe kan ek die resep so gesond as moontlik maak?
- hou jou southand lig, want daar is min ander bestanddele wat sout bevat
- daar is nie onnodig baie olie in die gereg nie en ook nie ander bestanddele wat baie sout of olie bevat, soos bv mayonnaise nie
3. Hoe kan ek dit meer omgewingsvriendelik maak?
- gebruik soveel as moontlik uit jou eie tuin, bv slaaiblare en kruie
- as jy bestanddele moet koop, hou by dit wat in seisoen en plaaslik beskikbaar is
4. Wat kan ek hersirkuleer of weer gebruik?
- was enige leë houertjies uit en plaas in die hersirkuleer-sak
5. Watter metodes kan ek volg wat minder water gebruik?
- spoel groente en slaaibestanddele in ’n bak met water af, ipv onder ’n lopende kraan