Kosblik 101

Spyskaart

Maalvleis met lensies in volkoringpitas (aangepas uit Cooking from the heart 3 )
Vars avokado en babaspinasie
Pink Lady® appel

Maalvleis is een van daardie veelsydige bestanddele wat in vele geregte en geure opgetower kan word. Dink maar net aan herderspastei, lasagne, op ‘n gebakte patat, in ‘n pannekoek vir die winter en so kan die lys aangaan.

‘n Basiese maalvleismengsel is iets wat ek baie gereeld sommer in groot hoeveelhede maak, vries en gereed hou vir ‘n vinnige ete. En as daar genoeg is vir aandete en iets vir die volgende dag se kosblikke, maak dit dinge soveel makliker.

Die skoolvakansie begin aan die einde van die week en vandag se maalvleismengsel is sommer regte lekker koesterkos vir die winter. Dis ‘n resep wat vir die reeks Cooking from the heart resepteboeke ontwikkel is. Met hierdie resepte word mense aangemoedig om gebalanseerd en voedsaam te eet en dit ‘n leefstyl te maak. As jy ‘n paar basiese beginsels volg en lekker resepte het om as basis te gebruik, dan is dit regtig nie moeilik om op die manier te leer kook en eet nie. Baie mense maak die fout om te dink dit is duur of vaal en vervelig om gesond te kook en te eet, maar met ‘n resep soos hierdie een, kan jy maar weet – met ‘n paar basiese bestanddele jy gaan lekker en voedsaam kan eet. http://www.cookingfromtheheart.co.za

Die maalvleis word in hierdie resep met soortgelyke bestanddele gegeur as vir ‘n tipiese bolognese-mengsel, die geurige Italiaanse maalvleis met tamatie en geurmiddels. En ja, daar is baie maniere om maalvleis gaar te maak en hier is nog ‘n lekker weergawe. Gerasperde wortels gee ‘n soeterige smaak aan die mengsel en is ‘n lekker balans met die tamaties, wat soms nogal suur kan wees. Vars of droë kruie kan gebruik word en gemaalde koljander is altyd lekker met maalvleis.

Om die mengsel ‘n interessante aanslag te gee, word rooi lensies saam met die maalvleis gekook. Die Droëbone Produsente Organisasie het ‘n verskeidenheid lensies en bone wat deel is van die reeks produkte wat hulle help verbou en bemark. Dit word ook onder verskillende handelsmerke in die winkels verkoop. Lensies en bone is bekend daarvoor dat dit ‘n goeie bron van vesel en ook proteïene is, so as jy dit op lekker maniere in jul etes insluit, dan maak dit die ete sommer meer voedsaam ook. Lensies en ander peule hou jou ook langer versadig, so dit help om die glisemiese indeks (GI) van die ete laag te hou – dit beteken dat hierdie tipe bestanddele sal help om jou bloedsuikervlakke langer stabiel te hou en beter te bestuur. http://www.beans.co.za

Lensies hoef nie soos droë bone eers geweek te word nie en kook ook aansienlik vinniger gaar. Rooi lensies is selfs gouer as bruin lensies gaar, sommer in 20 minute, en verander van die helder-oranje kleur na ‘n ligter kleur sodra dit gaar is. As jy sukkel om lensies in jou gesin se etes in te sluit, omdat jou kinders dalk nie daarvan hou nie, is hierdie die ideale resep, want die gaar lensies word baie goed deur die wortels en maalvleis gekamoefleer. Ek het hierdie resep al voorheen met dubbel die hoeveelheid lensies en vloeistof gemaak en dit baie suksesvol as vegetariese ete gebruik.

Vir vandag se kosblik word die maalvleismengsel in ‘n volkoringpita geskep. En om seker te maak dat die ete gebalanseerd is, kan klein spinasieblaartjies en skyfies avokado ook in die pita gesit word. Besluit hoe groot die gesinslid se ete moet wees en pak ‘n hele pita met die maalvleis vir ‘n groot ete in of dalk net ‘n halwe vir ‘n ligter ete of vir ‘n kind. Onthou dat porsiebeheer altyd belangrik is, selfs met bv gesonde keuse soos volkoringbrood, moet ons seker maak dat ons nie te veel koolhidrate eet nie.

Seisonale bestanddele is altyd lekker om deel te maak van ‘n mens se etes. Dis beslis geuriger wanneer dit daardie spesifieke produk se seisoentyd is en dis dan soveel makliker bekombaar, soos nou met Pink Lady® appels. Dis ‘n heerlike sappige, kraakvars appel en die perfekte peuselhappie om iewers deur die loop van die dag te eet. Leer ook jou kinders om hierdie lekker appels sommer met die skil aan te geniet, want dit is juis waar heelwat van die voedingswaarde van die mooi vrug sit. Dis beslis my kinders se gunstelingappel.

Die boere wat hierdie mooi pienk appels verbou doen baie moeite om seker te maak dat die vrugte die regte balans tussen sonlig en koue nagte kry, want dit is juis wat hulle so ‘n mooi blos en die heerlike smaak gee. Pink Lady® appels word ook langer aan die boom gelos om ryp en geurig te word – beslis nie sommer net nog ‘n appel nie. http://www.pinklady.co.za/

Elke week is die ATKV deel van #Kosblik, met ‘n mooi uitdrukking of woord wat hulle borg. Dink nou maar net aan vandag se woord, ‘koesterkos’, dis so ‘n beskrywende woord wat wonderlike herinneringe vir elkeen oproep. Koester, beteken om versorg en vertroetel te voel en ja, kos kan ‘n mens beslis so laat voel. En as jou ma of iemand naby aan jou die kos gemaak het, is dit mos daardie een wat jou met ‘n lekker bord kos koester. Dis vir my wonderlik om in Afrikaans te kan kook en ons moet ons kinders hierdie mooi woorde leer, sommer so in die kombuis en aan tafel. Gaan kuier ook by een van die ATKV-Oorde en eet heerlike koesterkos in hul #Koswerf-restaurant as deel van jou winterfamilievakansie of -naweek. http://www.atkvoorde.co.za

Resep

Maalvleis met lensies

Resep aangepas uit Cooking from the heart 3
Lewer 6 porsies

4 t (20 ml) olyf- of avokado-olie
500 g maer bees- of volstruismaalvleis
2 uie, gekap
250 g sampioene, gekap
2 wortels, grof gerasper
2 t (10 ml) gedroogde gemengde kruie of 30-45 ml gekapte vars kruie van jou keuse
1 t (5 ml) gemaalde koljander
2 t (10 ml) aangemaakte mosterd
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
½ k (125 ml) sterk Rooibostee
½ k (125 ml) rou rooi lensies
suurlemoensap en swartpeper na smaak

1. Verhit die helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot braaipan (AMC 24 cm Fry Pan werk goed). Braai maalvleis tot goudbruin en skep uit.
2. Verhit die res van die olie in dieselfde pan en braai uie en sampioene tot sag. Roer die wortels by en braai nog ’n paar minute.
3. Roer die gedroogde kruie, koljander, mosterd, maalvleis en tamaties by. Verlaag die hitte en prut oor lae hitte met ’n deksel vir 20 minute.
4. Roer tee en lensies by en prut nog 20-30 minute of tot die lensies sag is. Die rooi lensies sal van helder-orange na ‘n ligte orange verander as dit gaar is. Geur met suurlemoensap en peper.
5. Gebruik die maalvleis vir aandete of pak dit in ’n kosblik met volkoring-pitabroodjies, vars slaaibestanddele en baba-spinasieblare.

Wenk: los die maalvleis uit en gebruik 250 ml rooi lensies en 250 ml Rooibostee en berei die resep verder net soos hierbo voor. Prut die lensies vir 20-25 minute en sit die mengsel as vegetariese ete voor.